ARK

ARK is die benaming van twee voorwerpe in die Ou Testament*.

  1. Noag se ark is in die Bybelse* verhaal ’n reghoekige bootstruktuur wat Noag* volgens spesifieke afmetings moes bou (Gen 6:14). God was teleurgesteld met die boosheid van die mens en het besluit om die skepping deur ’n vloed te vernietig (Gen 6–9). Noag, sy familie en verskeie diere het die ark binnegaan en die vloeddood vrygespring. Volgens Gen 6:19 moes Noag een paar van alle diere inlaai, terwyl Gen 7:2-3 sê dat hy sewe pare van alle rein diere en voëls, en een paar van elke onrein dier moes saamvat. Twee mondelinge tradisies is hier in een vertelling gekombineer.

Die ark was gemaak van goferhout (moontlik sipres), en die oppervlakte binne en buite was met pik diggemaak. Die ark het drie verdiepings gehad, en was ongeveer 135 m lank, 22,5 m breed en 13,5 m hoog. Die ark het ’n dak gehad met ’n nok van 45 cm en ’n deur aan die kant. Die ark het na die afloop van die vloed op die berg Ararat* te ruste gekom. Verskeie antieke en moderne pogings is al sonder sukses aangewend om die ark te vind.

Verhale soortgelyk aan dié van Noag en die ark word ook gevind in die Ou Mesopotamiese literatuur (bv die Gilgamesj*-epos). In die Nuwe Testament* word die ark beskou as ’n vooruitskouing of ’n tipe van die kerk. (Kyk ook: Sondvloed.)

LH Joubert

  1. Ark van die verbond. Die kis van doringhout se afmetings was ongeveer 114 cm x 69 cm x 69 cm en word aangedui as die bewaarplek van die Tien Gebooie* (Eks 25:10–22; 37:1–9), Aäron* se staf (Num 17:1-11) en ’n goue houer met manna (Eks 16:33-34). Aan die sykante van die ark was daar goue ringe waardeur draaghoute gesteek is.

Daar word op verskillende maniere na die ark van die verbond verwys: “ark van die Here die Almagtige*” (2 Sam 6:2); “ark van God” (1 Sam 4:5) en “ark van die getuienis” (Eks 25:22). In antieke Semitiese kuns word die ark uitgebeeld as die voetbank van God wat as Koning op ’n troon sit. Hiermee word daar uitdrukking gegee aan die teenwoordigheid van die Here in die tempel* in Jerusalem* (Ps 132:7-8), en in sekere militêre omstandighede soos die inname van Jerigo* (Jos 6) en die oorlog teen die Filistyne* (1 Samuel 1–4).

Dit is onseker wat van die ark van die verbond geword het. Die mees waarskynlike moontlikheid is dat dit met die val van Jerusalem in 586 vC na Babilonië* weggevoer is (2 Kon 25:9, 13-16).

 

Sidebar