ARMINIUS, JAKOB

ARMINIUS, JAKOB (1560–1609). As Nederlander, studeer hy teologie* onder andere te Leiden en Genève onder Beza*. In 1588 word hy predikant van Amsterdam. As hy versoek word om opvattings van Dirk Coornhert, wat bepaalde aspekte van Calvyn* se predestinasieleer* verwerp het, te weerlê, skaar hy hom aan die kant van Coornhert. Hoewel dit bedenkings van onregsinnigheid teen hom laat ontstaan, word hy in 1603, as gevolg van steun deur die Libertyne (Kyk by: Libertinisme), hoogleraar te Leiden. Die onvermydelike botsing tussen hom en sy streng Calvinistiese kollega Franciskus Gomarus volg in 1604. Arminius was van oortuiging dat die uitverkiesing* tot saligheid plaasvind op grond van die geloof* wat deur God vooruit gesien word. Wat hieruit voortvloei is dat die gevalle mens wel ’n vrye wil* het: dis sy eie skuld as hy die heil verwerp, maar omgekeerd is dit ’n verdienste as hy die heil aanvaar. Gomarus het dit verwerp en geleer dat die uitverkiesing die grond van die geloof was. Die dood van Arminius in 1609 het die stryd nie laat eindig nie, maar in die Nederlandse kerk laat voortwoed tot by die Sinode van Dordt 1618–1619. Arminius se gedagtes is onder andere voortgedra deur die Remonstrantse Broederskap in Nederland en die Metodisme* van John Wesley*.

 

Sidebar