ARMOEDE

ARMOEDE is ’n saak wat die Christelike gewete op ’n besondere manier raak. Vir Jesus* is diens aan armes en behoeftiges ’n maatstaf wat sal bepaal wie deur sy Vader* geseën sal word en vir wie die koninkryk voorberei is (Matt 25:34-40).

Armoede is ’n voortdurende tekort aan middele om ’n menswaardige lewe te onderhou. Verskillende maatstawwe word aangelê om te bepaal wat ’n menswaardige lewe is. Die broodlyn en ander soortgelyke maatstawwe is ’n berekening van wat ’n indiwidu of ’n gesin* nodig het om in die mees basiese behoeftes te voorsien. Dit is moeilik om ’n eenvoudige maatstaf vir alle lande te vind. ’n Inkomste van US$1,00 per persoon per dag word redelik algemeen gebruik – maar pryse en gratis dienste wissel van plek tot plek, sodat berekenings gemaak moet word om die betekenis van die maatstaf vir ’n bepaalde plek te bepaal. Daar word onderskei tussen absolute en relatiewe armoede. Iemand wat onder die broodlyn leef, is absoluut arm. Iemand wat bokant die broodlyn leef, maar in ’n omgewing waar rykdom die sosiale norm is, is arm relatief tot daardie norm. Relatiewe armoede mag soms sielkundig swaarder wees om te verwerk as absolute armoede. Chroniese of gemeenskapsarmoede kom voor waar mense sekere waardes* en ’n lewenstyl aangeneem het wat veroorsaak dat die armoede voortduur: dit kan ’n passiewe of fatalistiese* houding wees waar mense, dalk as gevolg van herhaalde teleurstellings, besluit het dit is beter om in armoede te berus as om pogings aan te wend om daaruit te kom. Dit kan oorgaan in ’n destruktiewe lewenswyse. As armoede ’n enkelvoudige oorsaak het (bv ’n natuurramp), behoort aandag wat aan daardie oorsaak gegee word, die armoede op te hef. As die armoede egter deel geword het van ’n groter en langdurige patroon, word dit moeiliker: mediese dienste lei tot bevolkingsgroei en groter armoede; voedselhulp lei tot groter afhanklikheid en passiwiteit; beter salarisse lei tot drankmisbruik en gesinsverbrokkeling. Dan moet ’n strategie gevind word om hierdie patroon te breek.

Volgens ’n verslag van Statistieke Suid-Afrika (uitgereik in April 2014) het armoede-vlakke in Suid-Afrika tussen 2006 en 2011 verlaag. In dié tyd is ’n laagtepunt bereik van 20,2% van die bevolking wat in absolute armoede (onder die broodlyn)  leef, en 45,5% in relatiewe armoede (bokant die broodlyn). In 2011 het 10,2 miljoen Suid-Afrikaners in absolute armoede geleef, in vergelyking met 12,6 miljoen in 2006. 23 miljoen het in 2011 in relatiewe armoede geleef, in vergelyking met 27,1 miljoen in 2006.

Die verslag meld dat die wêreldwye finansiële krisis van 2008/2009 ’n groot impak gehad het op die lewensvlak van Suid-Afrika se arm mense, met die aantal mense onder die broodlyn wat in 2009 tot 15,8 miljoen toegeneem het voordat dit in 2011 teruggesak het na die 2006-vlakke.

Die algemene (aantoonbare) vermindering van armoede in die land is volgens Statistieke Suid-Afrika te danke aan “a growing safety net, income growth, above inflation wage increases decelerating inflationary pressure and an expansion of credit”, en voeg by: “It is critical to note the positive impact the provision of a ‘social wage’-package has been in helping reduce poverty in the country”.

AS van Niekerk

 

Terwyl die armoedesituasie in Suid-Afrika steeds kommerwekkend is, moet daarop gelet word dat die sg “middelklas” onder swartmense (wie se maandelikse huishoudelike inkomste dus tussen R16 000 en R50 000 is) groei. Navorsing deur die Unilever-stigting vir strategiese bemarking aan die Universiteit van Kaapstad het in 2013 bevind dat van die 42,28 miljoen swartmense in die land, sowat ’n tiende – 4,2 miljoen – tot die middelklas behoort. In 2004 was dit 1,7 miljoen. In vergelyking daarmee stagneer die groei van die wit middelklas. In 2004 het 2,8 miljoen witmense tot die middelklas behoort, terwyl dit in 2013 2,86 miljoen (uit 4,6 miljoen) was – steeds heelwat meer as die helfte.

FM Gaum

 

Sidebar