ARTAXERXES

Artaxerxes was die naam van drie konings van die Persiese Ryk*.

  1. Artaxerxes I (koning van 464–424 vC) het sy pa Xerxes* I opgevolg. Hy was nie ʼn sterk koning nie. Hy het te kampe gehad met ’n langdurige opstand van Egipte* en moes ook oorloë teen die Grieke in die weste voer. In Esra 7:1 en Neh 2:1 word hy Artasasta genoem. Nehemia* het ’n belangrike pos in sy diens beklee en het by hom toestemming gekry om na Jerusalem* te gaan om die stad, en veral die mure van die stad, te herbou.
  2. Artaxerxes II (koning van 404–359 vC) was in ’n lang oorlog met Sparta (later deel van Griekeland) gewikkel, wat vir hom gunstig geëindig het. Ook het hy met ʼn opstand van Egipte* te doen gekry, terwyl daar baie spanning binne die Persiese Ryk was. Sy broer, Kores die Jongere, het hom probeer vermoor. Sommige dink dat hy die Ahasveros was wat in die boek Ester* voorkom, maar Ahasveros was eerder Xerxes I.
  3. Artaxerxes III (koning van 359–338 vC) het Artaxerxes II opgevolg. In sy tyd het Egipte finaal weggebreek en het die Persiese Ryk al hoe kleiner geword, veral weens die opkoms van Aleksander*1 die Grote in Griekeland. Nadat Artaxerxes III vermoor is, was die skrif vir die Persiese Ryk aan die muur.

 

Sidebar