ASAF

ASAF is die naam van drie persone.

  1. Die pa van Joag, die hoof-uitvoerende beampte tydens die regering van Hiskia* (2 Kon 18:18, 37 = Jes 36:3, 22).
  2. Die opsigter van die staatsbos tydens Artasasta (Kyk by: Artaxerxes *1) se regering (Neh 2:8). Hy moes aan Nehemia* hout voorsien vir die poorte van die vesting by die tempel* en vir die stadsmuur tydens die heropbou van Jerusalem*.
  3. Die seun van Berekja*. Hierdie Asaf was waarskynlik die voorouer van die bekende Levitiese familie/gilde musikante en sangers in die Jerusalemse tempel*. Volgens 1 Kron 6:16 en volgende verse, het Dawid* Asaf as een van drie Leviete* aangestel om leiding te neem met die tempelsang. Hierdie aanduiding is waarskynlik ’n weerspieëling van die situasie in die na-ballingskapse (Kyk by: Ballingskap) tempel. Die Asafiete het blykbaar toe in verskeie tempelfunksies groter leiding geneem. Twaalf psalms (50; 73–83) dra ook ’n opskrif verwysende na Asaf – waarskynlik ’n aanduiding dat hierdie psalms deel was van ’n Asafitiese versameling, of volgens die Asafitiese styl/tradisie uitgevoer moes word.

LC Jonker

Sidebar