ASIË

ASIË verskyn die eerste keer by Herodotos (ongeveer 440 vC), en dui Klein-Asië of die Persiese* Ryk aan, in teenstelling met Griekeland en Egipte*. Homeros maak vroeër melding van ’n Trojaanse bondgenoot met die naam “Asios”. Die Grieke het Klein-Asië waarskynlik in gedagte gehad as hulle hierdie term gebruik het.

In die Nuwe Testament* is Klein-Asië die gebied wat aan Pontus en Bitinië in die noorde en Galasië* en Frigië* in die binneland gegrens het. Baie riviere en natuurlike hulpbronne het bygedra tot die ekonomiese krag van ’n streek met florerende landbou- en tekstielbedrywe. Die sewe gemeentes in Openbaring* was almal in Klein-Asië (Op 2–3). Die kerke* het aanvanklik in die hart van die groot stede ontstaan, waarvan Pergamum*, Efese* en Smirna* die bekendstes is. Sardis* was in die Hermusvallei (naby Tiatira* en Filadelfia*) en Laodisea* naby die dorpe Kolosse* en Hierapolis* aan die bokant van die Meandervallei.

 

Sidebar