ASKESE

ASKESE is ’n sisteem wat ontwerp is om deur selfdissipline aan die ondeugde van die menslike natuur te ontkom en reinheid te ontwikkel. Voor die tyd van Christus* was daar al sisteme van askese onder die Jode* en die heidene*. Die Esseners (Kyk by: Qumran) was ’n Joodse sekte* wat nuwe lede deur die gebruik van die doop* tot ’n lewe van selibaat* (gekenmerk deur onthouding aan seks en dissipline in die gebruik van kos en slaap) ingewy het. Saam met die groei van die kloosterlewe (Kyk by: Klooster) in die 4de eeu, is die asketiese ideaal ook in die Christelike wêreld versprei. Daar is geen twyfel nie dat vas* en gebed* van die begin af deel van die Christelike spiritualiteit* was (Matt 6:15; Mark 2:20; Luk 5:35; Hand 27:9), en dit was dan saam met die selibaatlewe (1 Kor 7:32) aangewend om die persoon oop te maak vir die werk van die Heilige Gees*. In die Vroeë Kerk* is daar tekens van die asketiese lewe in die werke van Ambrosius*, Johannes Chrusostomos*, Augustinus*, Bonaventura en Tomas van Aquino*. In die tyd van die Reformasie* was daar ook groepe van gewone Christene, soos die Broeders van die Algemene Lewe, wat hulle lewe probeer inrig het ooreenkomstig die asketiese ideale uitgespreek in die werke van Thomas à Kempis*.

 

Sidebar