ASKEW, ANNE

ASKEW, ANNE (1521–1546) is in ’n adellike familie in Stallingborough, Engeland, gebore. Haar pa, sir William, het haar toe sy 15 jaar oud was gedwing om met ’n Katoliek* te trou. Anne het hierteen in opstand gekom deur te weier om haar man se van te aanvaar. Alhoewel daar twee kinders uit die huwelik gebore is, was dit nie ’n goeie huwelik nie, omdat sy ’n toegewyde Protestant* was.

Askew het in Londen gepreek en Protestantse boeke versprei. Dit was boeke wat verban was, en daarom is sy in hegtenis geneem. Sy is in die sorg van haar man vrygelaat en later weer gearresteer, en hierdie keer is sir Anthony Kingston, hoof van die Tower of London, aangesê om haar te martel in ’n poging om haar sover te kry om ander Protestante te verraai. Kingston was so beïndruk met die manier waarop sy die wrede marteling verduur het, dat hy geweier het om verder daaraan deel te hê. Henry VIII* se hoofregter moes toe die werk oorneem.

Ná maande van marteling is Askew tot die brandstapel veroordeel. Sy was so erg vermink dat sy nie self na die brandstapel kon loop nie. Maar sy het nooit haar geloof verloën of haar vriende verraai nie.

Vir verdere lees: Elaine V Beilin 1996. The Examinations of Anne Askew. New York: Oxford.

 

Sidebar