ASSIRIESE RYK

Assiriese Ryk het ’n belangrike rol in die geskiedenis van die Ou Nabye Ooste van ongeveer 2000 tot 609 vC gespeel. Dit was een van die belangrikste ryke van die Ou Nabye Ooste en het ’n groot invloed op die geskiedenis van die volk van God in die tyd van die Ou Testament* uitgeoefen. Die ryk was geleë in die noordelike deel van Mesopotamië*, met as belangrikste stede Assur* en Nineve*.

Van hulle vroeë geskiedenis is nie veel bekend nie. Kort ná 2000 vC het hulle kolonies in Klein-Asië* gevestig, wat getuig van wye handelsaktiwiteite. Vanaf ongeveer 1813–1781 vC het die eerste belangrike Assiriese koning, Samsi-Adad I, regeer. Hy was ’n tydgenoot van Hammurapi* van Babilonië*.

Eers ná 1420 vC weet ons weer meer van die Assiriese Ryk. ’n Nuwe bloeitydperk begin onder koning Assur-Uballit, wat regeer het van ongeveer 1365–1330 vC. Hy was die eerste wat die ryk die Assiriese Ryk genoem het. Onder Adad-Nirari I het die ryk baie uitgebrei. Hy het ook groot bouprojekte in die hoofstad Assur onderneem. Belangrike regeerders ná hom was Salmaneser* I (1274–1245 vC) en Tukulti-Ninurta (1244–1208 vC). ’n Nuwe hoogtepunt het in die tyd van Tiglat-Pileser I (1115–1077 vC) gekom.

Die invloed van Assirië op die Israeliete was veral groot in die tydperk 900–600 vC. In hierdie periode het die Assiriese Ryk die hoogtepunt van sy mag bereik, voordat die ryk teen 609 vC finaal vernietig is. Adad-Nirari II (911–891 vC) het weer die mag van die ryk sterk gevestig. In die tyd van Assurnasirpal II (883–859 vC) is die grense van die ryk uitgebrei. Hy het begin om in oorlog van perderuiters gebruik te maak, benewens voetsoldate en strydwaens, en in sy tyd het die Assiriërs ’n formidabele militêre mag geword. Sy opvolger, Salmaneser III (858–824 vC), het geweldige bouprojekte onderneem. In 841 vC moes koning Jehu*1 van Israel* aan hom belasting betaal. ’n Eeu later het die Assiriese Ryk weer ’n groot hoogtepunt beleef, veral onder Tiglat-Pileser* III (746–727 vC). Hy het Palestina* in 734 vC ingeval en gevorder tot by die grens van Egipte*. In 733 vC moes Israel*4 baie grondgebied aan hom afstaan. Sy seun, Salmaneser V, het Samaria*, die hoofstad van Israel, beleër. Sargon II het Israel tot ’n finale val gebring, Samaria ingeneem en die mense in ballingskap1* weggevoer. Sy opvolger, Sanherib (704–681 vC), het Jerusalem* in 702 vC beleër, maar kon nie die stad inneem nie. 2 Kon 18–19 vertel die verhaal hiervan, onder andere ook dat die beleg deur ’n wonderbaarlike ingryping van God beëindig is. Hy is opgevolg deur sy seun Esarhaddon*, in wie se tyd daar baie spanning was met opstande in verskillende gebiede. Sy seun Assurbanipal (668–627 vC) was die laaste sterk Assiriese koning. In sy tyd is daar ’n groot biblioteek in Nineve* gebou, wat in die moderne tyd opgegrawe is met ’n rykdom van geskrifte nog daarin. Teen die einde van sy regering het die Assiriese Ryk drasties begin verswak, totdat die ryk finaal deur die Babiloniërs in 609 vC vernietig is.

 

Sidebar