ASSUR

ASSUR. Die Hebreeuse* term Assur hou verband met die aartsvader (seun van Sem – Gen 10:22; 10:8-12; 1 Kron 1:17), met die land Assirië (bv Jes 7:18), met die Assiriërs (14:25; 19:23-25; 30:31), met die konings van Assirië (10:12; 20:1, 4, 6) en met Babilonië* (14:4), die Persiese koning (Esra 6:22), die Seleukiede (Jes 19:13) en/of Arabiese stamme (Gen 25:17-18; Ps 83:7, 9). Die stad Assur (die moderne Qala’at Sherqat) was die eerste hoofstad van die Assiriese Ryk*. Dit het dwarsdeur die geskiedenis die hartland van Assirië gebly waar konings gekroon en by afsterwe begrawe is. Die terrein van Assur word moontlik al sedert 2 900 vC bewoon. Enkele artefakte is gevind en opgrawings het tempels blootgelê. Die Assiriese koningslys bevestig die name van heersers in die stad wat klop met die Kültepe-tablette.

Die profete* sien die koning/land van Assur soms as ’n mag in die hand van God. Die Bybel* sinspeel op die godsdiens van die Assiriërs, maar die god Assur word skynbaar nie uitdruklik genoem nie. Sommige meen egter dat Num 24:22-24 en Ps 83:9 wel na dié god verwys. Hierdie godsnaam verskyn in eiename (bv Assurbanipal). ’n Afbeelding van die god op ’n sonneskyf herinner aan Eseg 1.

Vir verdere lees: DN Freedman (hoofred) 1992. Anchor Bible Dictionary. New York: Doubleday. JD Douglas 1998. Illustrated Bible Dictionary. Leicester: IVP. K van der Toorn et al (red) 1995. Dictionary of Deities and Demons in the Bible. Leiden: Brill. N Postgate 1977. The First Empires. Oxford: Elsevier – Phaidon.

 

Sidebar