ATANASIUS

ATANASIUS (circa 296–373) is in Egipte gebore as die seun van skatryk ouers, en ontvang sy opvoeding in Griekeland. Sy stryd teen Arius* se Arianisme* word verskerp tydens die Sinode van Nisea* (325), waar Atanasius as sekretaris van biskop Aleksander die sinode bywoon en ’n betekenisvolle verskil maak. In Aleksandrië speel hy as teoloog ’n groot rol en besef as skrywer wat die mag van die pen is. Hy gebruik dit met oorleg om die Christelike gemeenskap te dien en sy invloed oral, ook op politieke gebied, te laat geld. Toe hy 30 jaar oud was, word hy biskop van Aleksandrië, wat hom in botsing bring met die Ariane. Onder hulle invloed word hy vyf keer uit die stad verban, maar so versprei hy die ortodoksie* in ’n stryd wat 17 jaar sou duur. In 339, tydens sy ballingskap in Rome*, word sterk bande met die Westerse kerk gevorm.

Die geskiedenis van die Christelike kerk in die vierde eeu word verwoord in die lewe, dade en leerstellings van Atanasius. Sy diepgaande invloed op die kerk duur eeue lank, sy magdom geskrifte en Bybelse kommentare word wyd gelees en is rigtinggewend in die vroeë Christelike kerk en breë samelewing. (Kyk ook: Geloofsbelydenis van Atanasius)

Vir verdere lees: Alvyn Pettersen 1995. Athanasius. Harrisburg: Morehouse. “Athanasius” in: JD Douglas (red) 1974. The New International Dictionary of the Christian Church. Exeter: Paternoster Press.

 

Sidebar