ATEÏSME

ATEÏSME, ontleen aan die Griekse a-theos (sonder-god), staan teenoor teïsme*, naamlik die geloof in God of gode wat ’n invloed uitoefen op gebeure in die wêreld. Ateïsme is te onderskei van deïsme* waar die bestaan van God as ontwerper van die wêreld wel erken word, maar nie dat God vandag nog betrokke is by die skepping of geskiedenis nie.

Daar is twee vorms van ateïsme. Agnostiese ateïsme beweer dat God dalk mag bestaan, maar ontken die moontlikheid van kennis oor hierdie Godheid (Kyk by: Agnostisisme). Hierdie vorm van ateïsme berus op rasionalisme*, naamlik net wat redelik bewys kan word, is kenbaar. Sterk of eksplisiete ateïsme ontken die bestaan van God of gode geheel en al. Dit kan tot anti-teïsme lei wat die negatiewe krag van godsdiens beklemtoon en geloof in God aktief teenstaan.

Redes vir ateïsme wissel van sekularisme* in die samelewing tot by die probleem van onregverdige lyding in die wêreld wat moeilik met ’n voorsienige God gerym kan word.

 

Sidebar