ATENE/ATHENE

ATENE/ATHENE was van oudsher Griekeland se vernaamste stad, ongeveer 5-8 km van die Saroniese golf, in die Akropolis (“kruin” + “stad”) se omgewing. Paulus* se Areopagusrede vind in Atene plaas (Hand 17:16-34). Vroeër was daar ’n raad by die Areopagus (’n heuwel oorkant die Partenon wat oor die stadsplein gekyk het) gesetel, met ’n regsprekende funksie. Sokrates is daar verhoor en moes daarna die gifbeker drink. Lukas* se beskrywing van die Areopagusrede herinner ons aan hierdie gebeurtenis.

Atene was in Paulus se tyd nie meer die luisterryke stadstaat van voorheen nie, en het slegs ongeveer 5 000 inwoners gehad. Die Romeinse* besetting van die provinsie Agaje* (vanaf 88 vC) het Atene se status as deel van die Romeinse provinsiale stelsel (Kyk by: Romeinse Ryk) na ’n “geallieerde stad” verander. Vir Lukas is dit steeds simbolies van die hoogste kultuurvlak wat in die antieke wêreld gevind kon word. Die filosowe* Plato*, Sokrates, Aristoteles, Epikurus en Xeno het almal daar gewoon. Die beeldhouwerk, literatuur en redevoerings uit die 5de en 4de eeue vC is onvergelyklik. Dit was die wieg van die demokrasie*, en ’n godsdienstige stad. Die Griekse reisiger Pausanias (150 nC) verwys ook na gode, “bekend en onbekend”, in Atene.

 

Sidebar