AUCAMP, HENDRIK CHRISTOFFEL LOURENS (HENNIE)

AUCAMP, HENDRIK CHRISTOFFEL LOURENS (HENNIE) (1934–2014) se prosawerk sluit op ’n vreemde manier aan by die digwerk van Ernst van Heerden*. Alhoewel Aucamp dikwels, veral in sy vertellings uit die verlede, tradisionele verwysings na die godsdiens en die Bybel* maak, dra sy werk nie ’n uiterlike godsdienstige element nie. Aucamp, wat gay was, se werk wys egter duidelik sosiale onreg uit (vgl veral sy kabarettekste) en sy oeuvre is feitlik ’n studie in deernis en begrip van die mens en sy prikêre bestaan. Afgesien van Aucamp se pragtige plaasverhale, is daar sy stadsverhale en sy blootlê van die vervalle moderne samelewing. In sy voortreflike verhaal “’n Heilige doen huisbesoek” klim St Fransiskus van sy pedestaal af en besoek sy stad San Francisco waar hy onder meer kennis maak met prostitute en dwelms. Hierdie verhaal lewer indirek skerp kritiek teen die klakkelose moraliserings en afstandelikheid van die kerk*.

 

Sidebar