AUGSBURGSE KONFESSIE

AUGSBURGSE KONFESSIE (1530) of die Confessio Augustana het ’n ingewikkelde voorgeskiedenis. Keiser Karel V wou ’n einde maak aan die godsdienstige twisgesprekke tussen Katolieke* en Protestante* in sy ryk. Gevolglik het hy ’n Ryksdag uitgeskryf wat in 1530 in Augsburg byeen sou kom. Protestantse leiers het ’n dokument saamgestel waarin die hand van Melanchton*, veral in die tweede deel, asook die invloed van die teologie van Luther* duidelik sigbaar was. Hierdie dokument, wat bekend geword het as die Confessio Augustana, is op 24 Junie 1530 as belydenis van die Protestante tydens die Ryksdag voorgedra.

Melanchton het in 1540 veranderings aan die oorspronklike teks aangebring – wat toe Variata genoem is, en deur Calvyn* onderteken is – maar die oorspronklike teks van 1530 (Invariata genoem) het die gesaghebbendste en invloedrykste simbool van die Lutherse kerke geword. Die Confessio Augustana het eers in 1537 belydenisstatus ontvang toe dit deur die Duitse vorste aanvaar is.

Die Confessio Augustana bestaan uit twee hoofdele: Deel een, wat handel oor geloof en leer, steun op die Schwabachse artikels (oorspronklik van Luther), terwyl die tweede deel, wat handel oor misbruike in die Katolieke Kerk, gebruik maak van die Torgau-artikels, wat deur ’n aantal Lutherse teoloë opgestel en deur Melanchton verwerk is.

Die inhoud van die eerste deel is soos volg: 1-3. God, erfsonde, Christus; 4. regverdiging; 5. die predikamp; 6. nuwe gehoorsaamheid; 7-13. kerk en nagmaal; 14-15. kerkorde; 16. burgerlike regering; 17. wederkoms; 18-21. vrye wil, sonde, geloof en werke, verering van heiliges.

Die tweede deel bevat: 22. nagmaal; 23. huwelik van priesters; 24. Katolieke mis; 25. boetedoening; 26. oor kos en eetgewoontes; 27. monnik-eed; 28. gesag van biskoppe.

Die toonaard van die Confessio Augustana is gematig, maar dit is uitgesproke oor fundamentele Lutherse belydenisstukke, met die regverdiging deur die geloof* as sentrale dogma*.

 

Sidebar