AUGUSTUS

AUGUSTUS (63 vC–14 nC) was ’n Romeinse keiser* en aan bewind tydens Jesus* Christus* se geboorte (Luk 2:1). Ná die moord op sy oom, Julius Caesar*, het hy bekend gestaan as Gaius Julius Caesar Octavianus. Augustus se suster was getroud met Antonius, wat haar gelos het vir die Egiptiese* koningin Kleopatra*, en Augustus het beide verslaan by Aktium in 31 vC. Hy het vrede herstel na lang burgeroorloë, en die senaat het hom die titel “Augustus” gegee – “verhoogde” – saam met ’n konsentrasie van juridiese, religieuse en politieke mag. Hy was toe imperium maius oor regsake en militêre aangeleenthede; pontifex maximus, hoëpriester van die Romeinse godsdiens, en princeps senatus, leier van die senaat. Die Romeinse Ryk* het onder sy leiding uitgebrei en gefloreer. Hy was goedgesind teenoor die Jode,* en sy beleid en invloed vorm die agtergrond waarteen die Christendom* ontstaan het. Ná sy dood is hy deur die Romeine as ’n god vereer en sy opvolgers eien hulle die titel “Augustus” toe.

 

Sidebar