AUTSHUMAO (HERRIE DIE STRANDLOPER, KING HARRY)

AUTSHUMAO (HERRIE DIE STRANDLOPER, KING HARRY) (circa 1600-1663). Die bekende Herrie die Strandloper se Khoekhoen-naam was Autshumao en hy was volgens sy aanspraak kaptein van die Goringhaikoma (Strandlopers) – ’n Khoekhoen*-stam wat met die landing van Jan van Riebeeck* in 1652 in die Tafelvallei gewoon het. Hy het vroeër (ongeveer 1631-1632) die Engelse kaptein, John Hall, na Bantam en terug vergesel en het toe gebroke Engels aangeleer.

Autshumao/Herrie en Van Riebeeck het in Engels gekommunikeer hoewel hy ook kennis van Nederlands gehad het. Hy het geselskappe na Tafelberg en Valsbaai vergesel en by ander stamme vee geruil. Hy is as tussenganger goed beloon met kos, klere en versiersels. Nadat hy en van sy makkers ’n VOC*-veewagter vermoor en met die buit gevlug het, bied hy twee jaar later weer sy dienste as tussenganger aan. Dit lei tot ’n binnelandse ekspedisie waartydens die ruilgoedere gesteel is.

Hierna het Van Riebeeck hom versoek om uit die Tafelvallei te trek of op ’n eerlike manier vee aan die Kompanjie te lewer. Hy verbreek egter sy belofte en trek na Kaap Hangklip. Kommissaris Van Goens het vervolgens Autshumao/Herrie se verbanning na Batavia aanbeveel, maar dit is deur die Politieke Raad na gevangenskap verander. Weens sy ouderdom maak Van Riebeeck hom veewagter op Robbeneiland*, maar hy ontsnap en word nogmaals by die fort verblyfreg gegee. Autshumao/Herrie het in April 1660 saam met die bejaarde Gogosoa, die werklike stamhoof, ’n vredesverdrag met die VOC gesluit ná wat as die eerste koloniale oorlog in Suid-Afrika beskou kan word.

Hoewel Autshumao/Herrie met die Protestantse* geloof in aanraking gekom het, is daar nie aanduidings dat dit sy Khoekhoen-geloofsoortuigings beïnvloed het nie.

Vir verdere lees: DB Bosman en HB Thom 1952, 1955, 1957. Daghregister gehouden by den oppercoopman, Jan Anthonisz van Riebeeck, deel 1-3, Kaapstad: Van Riebeeck-vereniging.

 

Sidebar