BAÄL

BAÄL is ’n algemene begrip in die Semi­tiese tale* en beteken “heer/eienaar/me­neer”. Baäl is ook ’n godsnaam, soos die Ugaritiese* (Kanaänitiese*) kultuur dit be­vestig. Dáár was Baäl een van die belang­rike gode in die Ugaritiese panteon, naas die ouer god, El. As godsnaam kom Baäl 90 keer in die Ou Testament* voor. Soms word daar verwys na die “Baäls” as ’n algemene kategorie gode (Rig 8:33; 1 Kon 18:18). Die aanduiding “Baäl” kom egter meermale in die Ou Testament in die enkelvoud voor. Veel­al word hy geasso­sieer met natuurelemente (storms) en vrug­baarheid. Dat hy ’n belangrike en po­pulêre god was wat deur baie aanbid is, kan afgelei word uit baie verwysings na as­pekte rondom hom: “tem­pel van Baäl” (1 Kon 16:32), “altaar van Baäl” (Rig 6:25), “klippilaar van Baäl” (2 Kon 3:2), “profete van Baäl’ (1 Kon 18:19) en “priester van Baäl” (2 Kon 11:18). Dwarsdeur Israel*4 se geskiedenis was daar ’n skerp polemiek teen die god Baäl. Soos ’n refrein loop die beskuldiging: “ … hulle het agter die Baäls aan geloop.” By verskeie geleenthede word “Baäl/Baäls” saam met die Astar­tes* ge­noem as gode wat ’n aantrekkings­krag vir die Israeliete gehad het (Rig 2:13; 10:6; 1 Sam 7:4; 12:10). Die verleiding van die Baäl­godsdiens het voortgeduur totdat beide die koninkryke van Israel en Juda*4 in bal­lingskap* weggevoer is. Een van die klas­sieke konfrontasies tussen diegene wat aan Jahwe* getrou wou bly, en die Baäliste, bly die verhaal van Elia* soos beskryf in 1 Kon 17:19. Vir die volk Israel moes dié gebeure ’n duidelike bevestiging gewees het dat dit nié Baäl is wat die reën en weerlig (vuur) gee –  soos wat baie geglo het – nie, maar Jahwe. Ook elders in die Ou Testament word Jahwe verbind met kwali­teite wat tradisioneel aan Baäl toegedig is: winde, wolke en dou (Nah 1:3; Ps 77:18-19; Gen 27:28).

Vir verdere lees: W Herrmann 1995. “God (I)” in: K van der Toorn et al (red), Dic­tio­nary of Deities and Demons in the Hebrew Bible. Leiden: Brill.

Sidebar