BABEL

BABEL (Hebreeus*) of Babilon (Grieks*, van die Semitiese woord: babilu) verwys na die stad by die Eufraat* (Jes 13:19; 2 Kon 20:17; Jer 27:16-22), na die landsgebied (Galdeërland – Eseg 12:13; Jer 50:28, 35), na sy konings (bv 2 Kon 20:12), na sy landsburgers (2 Kon 17:24), na sy tempels (Esra 5:14) en na sy argiewe (Esra 5:17; 6:1). Selfs die Persiese* koning word as koning van Babel aangedui (Esra 5:13; Neh 13:6). Soms word die naam verpersoonlik (Jes 47:1; Jer 50:42).

’n Historiese band tussen die Bybel­verhale en Babel word bevestig deur verwysings na van die konings, bv Merodak-Baladan (721–710; 704–702? vC / 2 Kon 20:12-18; Jes 39:1-8; Jer 52:31), en Nebukadnesar* (605–562 vC / Jer 52:28-30). Vir die Bybelskrywers verteenwoordig Babel/Babilon ’n blywende bedreiging. Dit word onderstreep deur verwysings in Genesis* en Openbaring*.

Die verhaal van Gen 11:1-9 is gebaseer op die bou en verval van trappetempeltorings (ziggurats) in die ou wêreld, veral die een in Babilon. Een verklaring verstaan die narratief in terme van God se plan met die mensdom, spesifiek oor naamgewing. Naamgewing word positief geag (Gen 2:19-20, 23; 3:20; 4:25-26; 5:29; 9:26), maar “die manne van naam” word afgewys (Gen 6:4). Die mense van Babel wil vir hulleself ’n “naam” maak (Gen 11:4). God gryp in langs die weg van naamgewing (11:10-26). Sem (Hebreeus: “naam”) vorm God se skakel in die uitvoering van sy opdrag deur aan Abraham* (“vader van baie volke”) ’n groot naam te gee (12:2 – 1933/1953-Afrikaanse Vertaling); dieselfde geld vir Dawid* (2 Sam 7:9, 29). Salomo* word indirek gekritiseer omdat hy vir homself ’n “naam” wou maak.

Ander oordeel dat die verdeeldheid wat by Babel ontstaan het weens die verskillende tale, deur die gebeure van Pinkster* omgekeer is en dat God so sy plan met die mensdom voorlopig bereik het, naamlik die samestelling van die kerk* uit alle nasies (Hand 2:1-13, veral vers 5-11). (Kyk ook: Babiloniese Ryk.)

Vir verdere lees: DN Freedman (hoofred) 1992. Anchor Bible Dictionary. New York: Doubleday. JD Douglas 1998. Illustrated Bible Dictionary. Leicester: IVP. GA Buttrick 1962. Interpreter’s Dictionary of the Bible. Nashville: Abingdon Press. MC Tenney 1975. Zondervan Pictorial Encyclopedia of the Bible. Grand Rapids: Zondervan. P Bahn 2001. The Penguin Archaeology Guide. Londen: Penguin Books.

 

 

Sidebar