BACH, JOHANN SEBASTIAN

BACH, JOHANN SEBASTIAN (1685–1750). Vir baie musiekliefhebbers is Bach die grootste van alle komponiste. Só groot is sy invloed op die kerk* geag, dat hy onder baie (naas Matteus*, Markus*, Lukas* en Johan­nes*) as die “vyfde evangelis” bekend staan, wat ons, beter as enige ander komponis, help om die diepste betekenis van Jesus* se lewe, dood en opstanding* te begryp. Bach het uit ’n musikale familie gekom (vir 400 jaar lank het lede van die Bach-familie hulle merk in Duitsland gemaak), maar moes ’n lang stryd voer om permanente aanstellings te kry. Omdat sy musiek so nuut en oorspronklik was, moes hy dikwels kritiek verduur. Nadat hy poste in Arnstadt, Weimar en Cöthen beklee het, is hy uiteindelik in 1723 as kantor en orrelis in die St Thomas-kerk in Leipzig aangestel, waar hy tot met sy dood sou bly. Van sy beroemdste werke is in dié tyd geskryf: sy Mattheus- en Johannespassies, sy Mis in B-Mineur, asook ’n groot aantal koraalwerke. Van ewe groot betekenis is sy Kersfees­oratorium, sy minder bekende Paasora­torium en sy vrolike Magnificat. Bach het ook talle werke wat vir die konsertsaal bedoel is, gekomponeer. Sy Brandenburg­konserte het as voorbeeld vir komponiste soos Mozart en Beethoven* gedien. Een van die mees geliefde liedere in die Liedboek van die kerk, Lied 346 (“Ek kniel ook voor u voete, Heer”), is van Bach. Bach was ’n innige gelowige wat aan die einde van elke manuskrip die letters SDG geskryf het: die afkorting van Soli Deo Gloria (“alleen aan God die eer”).

 

Sidebar