BALLINGSKAP

BALLINGSKAP word as term dikwels in verband met die geskiedenis van die Ou Testament* gebruik. In die meeste gevalle verwys dit na die Babiloniese ballingskap, maar dit is noodsaaklik om rekening te hou met ander voorkomste van die verskynsel. “Ballingskap” verwys na die gebruik om mense uit hulle eie land uit weg te neem en in die land van die oorwinnaars te vestig. Normaalweg het een volk wat ’n ander oorwin het en daardie volk se land wou be­heer, die mense met vaardig­hede weggevoer en sodoende die land lamgelê. Só kon be­heer oor daardie land behou word.

In die geskiedenis van Is­rael*4 en Juda*4 het daar twee groot wegvoerings plaasge­vind.

  1. Ballingskap van die Noorde­like Ryk. In die eerste geval is Israel wat uit die tien stamme bestaan het, in 722/721 vC deur die wêreldheerser van daardie tyd, Assirië*, wegge­voer. Hierdie dramatiese ge­beure het die gang van die Noordryk totaal verander. Behalwe vir diegene wat na die Suidryk Juda ontsnap het, het die tien stamme ophou bestaan en nooit uit balling­skap teruggekeer nie.
  2. Babiloniese ballingskap het in die tyd van die profete Jere­mia* en Esegiël* plaasgevind. Jeremia was in daardie stadium die meer prominente profeet, maar het nie self in ballingskap gegaan nie. Esegiël het egter saam met die Sadokitiese priesters in Babel* beland. Die groot wegvoering ná die beleëring van Jerusalem deur die Babilo­niërs het in 586/7 vC plaasgevind. Hoewel dit die finale wegvoering uit Juda was, het daar in die voorafgaande jare, soos in 597, reeds kleiner wegvoerings plaasgevind. In 586 vC is die mense met vaar­dighede en leierskap na Babel weggevoer. Dit was meesal arm mense en Levitiese pries­ters* wat in Juda agtergelaat is. Hierdie gebeure het ingrypende gevolge in die geskiedenis van Juda gehad.

Die Babiloniese ballingskap het ’n teologiese krisis vir die mense van Juda meegebring. Vantevore was die stad Jerusalem*, die temple* op Sionsberg* en die koning uit die geslag van Dawid*, simbole van sekuriteit vir Juda. Die tempel was God se aardse woonplek en die koning volgens belofte sy verteenwoordiger. Met die in­name van Jerusalem, is die tempel verwoes en die koning in ballingskap weggevoer. Dit het die vraag laat ontstaan of God nog by sy volk betrokke was. In Babel in bal­lingskap moes die mense van Juda opnuut hulle identiteit ontdek en besef dat die Here nie op een plek (tempel) vasgepen kon word nie. Tydens die ballingskap het die wet* en die priesters meer prominensie begin kry. Die ballingskap moes interpreteer word, met die gevolg dat dit as straf op ongehoorsaamheid en ontrouheid aan die Here verstaan is. Die tydperk in ballingskap is gesien as ’n reinigingstyd waardeur die volk van Juda moes gaan, waarna ’n gesuiwerde oorblyfsel na hulle land sou terugkeer om die tempel te herbou. Dit het nuwe denke en herinterpretasie van hulle verlede tot gevolg gehad, soos gesien kan word in literatuur wat in hierdie tyd neerslag gevind het.

Sidebar