BALLOT, HEINRICH WILHELM

BALLOT, HEINRICH WILHELM (1766–1814) is in Iserlohn, Duitsland, gebore, maar bestudeer teologie in Leiden, Neder­land. Hy is in 1790 georden en word deur die Vereenigde Oost-Indische Compagnie* (VOC) na Malakka in die Ooste gestuur. In 1797 kom hy in Tafelbaai aan en hy besluit om in die Kaap te bly, aangesien Europa in die greep van ’n oorlog was. Hy neem ’n paar maande in ds MC Vos* se plek in Tulbagh waar terwyl Vos ’n reis na die binneland onderneem.

In 1798 word Ballot op eie versoek as permanente predikant na Graaff-Reinet ge­stuur waar hy met die oproerige patriotte bots en die Derde Grensoorlog beleef. Met die dood van sy vrou is hy op eie versoek weer eens verplaas. In Kaapstad is hy weer getroud. Sy enigste seun uit hierdie huwelik word later predikant van George. Hy aanvaar in 1802 ’n leraarspos in Swellendam, maar is nogmaals nie gelukkig nie. In 1803 word hy na Tulbagh gestuur. Daar ontstaan wrywing tussen hom en die landdros en hy is selfs in Kaapstad aangehou vanweë sy negatiewe houding teenoor die owerheid.

Ballot het begin met die oprigting van sy eie Kaaps-Hollandse huis in Kerkstraat op Tulbagh, bekend as Ballotina. Hy is egter voor die voltooiing daarvan oorlede. Ballot se groot versameling boeke oor alle moontlike onderwerpe is in 1945 deur die Univer­siteit van Kaapstad by sy nageslag aange­koop.

Sidebar