BAM, GUSTAV

BAM, GUSTAV (1928–1996) is in Nigerië gebore waar sy pa sendeling was. Hy is op Stellenbosch gelegitimeer, en was van 1955 af leraar van die NG Gemeente Kaapstad (Groote Kerk). Bam verwerf sy doktorsgraad en dien as hospitaalleraar vir die ringe van Kaapstad en Wynberg. Van 1970 af was hy leraar van die Cape Peninsula Reformed Church. In 1982 word hy professor in diakoniologie aan die Teologiese Skool van die Universiteit van Wes-Kaapland.

Reeds in 1961 het Gustav Bam hom on­om­wonde teen onreg in die samelewing uit­gespreek toe hy in ’n opspraakwekkende preek in die Groote Kerk, wat ook in die Parlement opslae gemaak het, die verdrukking van Ou Israel* deur Egipte* vergelyk het met die blankes se optrede teen die gekleurde volke in Suid-Afrika. Toe die NG Sendingkerk* 21 jaar later ’n status confessionis af­kon­dig en bevind dat die Skriftuurlike reg­verdiging van apart­­heid* inder­waar­­heid in botsing is met die Skrif*, was dit Bam wat die sinode daar­op gewys het dat die aanvaarding van so ’n status confessionis moet lei tot die formulering van ’n belydenis. Hy het uiteindelik ’n belangrike rol gespeel in die aanvaarding van die Belydenis van Belhar* in die NG Sendingkerk.

 

Sidebar