BAN

BAN. Aanvanklik het die Hebreeuse* woord vir ban, gïrem, bloot “wy” beteken, maar algaande ontwikkel na dit wat verbode is, omdat dit óf vervloek* óf heilig* is. Dit geld mense en dinge of plekke. Dit word later veral as juridies-kultiese uitdrukking ge­bruik ter wille van God se saak en het sowel ’n kollektiewe (oorlog) as ’n indiwiduele (doodstraf) element (kyk Jos 7 en Lev 27:28-29). In Esra 10:8 kry dit die betekenis van “afsny” en dit vorm die agtergrond vir Chris­tene* wat later uit die sinagoges* geban is (Joh 9:22; 12:42; 16:2). Die Nuwe-Testamentiese woord vir ban is gevolglik aposunagogos, wat die bedoeling van ekskommunikasie* het.

In die Christelike kerk het Augustinus* (354–430) in sy stryd teen die Donatisme* die opsie van ban in stede van kerkstigting voorgestel. Calvyn* (1509–1564) sou hom teen die Anabaptiste* hierin volg en sien dit op grond van Matt 18:15-20 as die strengste straf (“laaste weerligstraal”). Dit wil die eer van God beskerm en maak ’n amptelike uitspraak van afwysing oor iemand wat dit in leer of lewe sou aantas. Die bedoeling is sowel om die gemeente te suiwer as om die betrokkene tot inkeer te bring. Die Nederlandse Geloofsbelydenis*, Artikel 32, beskou die ban as noodsaaklik.

 

Sidebar