BANDA, HASTINGS KAMUZU

BANDA, HASTINGS KAMUZU (circa 1898–1997) is in Malawi gebore en studeer in die VSA en Skotland. Hy is tot 1953 mediese dokter in Londen, en gaan praktiseer toe in Ghana.

In 1958 keer hy terug na Njassaland (tans Malawi), waar hy in hegtenis geneem word ná opstande teen die stigting van die Federasie van Rhodesië en Njassaland. Ná sy vrylating in 1960 lei hy Njassaland na onafhanklikheid. In 1964 word dié land ’n onafhanklike lid van die Statebond met Banda as premier.

Banda word die eerste president van die Republiek van Malawi wat op 6 Julie 1966 tot stand kom. In 1971 word hy tot lewenslange president verklaar, en regeer die land as eenpartystaat tot in die 1990’s. Hy knoop diplomatieke betrekkings met Suid-Afrika aan, en Malawi beleef danksy buitelandse beleggings groot voorspoed in die 1970’s. Banda, ’n oortuigde Christen*, was simpatiekgesind teenoor sendelinge* wat van Suid-Afrika en elders na sy land gekom het en het deure vir hulle oopgemaak. Hy was ’n groot kampvegter vir vroue­regte.

Die teenstand teen Banda se outokra­tiese regeringstyl het algaande toegeneem, en in 1994 het Bakili Muluzi hom in Malawi se eerste veelpartyverkiesing verslaan. In 1995 is Banda aangekla van moord op politieke teenstanders in 1983, maar vrygespreek. In 1997, kort voor sy dood, is hy aangekla van korrupsie.             DJ van Lill

Sidebar