BAR KOGBA-OPSTANDE

BAR KOGBA-OPSTANDE. Bar kogba beteken (in Aramees*) “die seun van die ster” en kan teruggevoer word na Num 24:17 “… ’n ster sal uit Juda opgaan, ’n septer uit Israel verrys, wat Moab se uithoeke sal verbrysel en al die seuns van Set sal verpletter.” Hierdie teks word veral deur Jode* as ’n Messiaanse* profesie beskou en word ook deur uiteenlopende groeperings in die geskiedenis van die Judaïsme* as ’n belofte van ingryping deur God in die geskiedenis van die volk beskou.

Die Esseners*, die groep wat verant­woordelik was vir sommige van die Dooie See-rolle*, het ’n Messiaanse interpretasie van dié Numeri-teks gehad. In een van hulle geskrifte, Damaskus-Dokument, word dit gestel dat die interpreteerder van die wet (deur God tot die taak geroep) die ster is wat na Damaskus* sou kom om die volk te red. Hulle het weliswaar geen fisiese redding verwag nie, maar eerder ’n oorlog wat op geestelike vlak tussen die kinders van die lig en die duisternis sou geskied.

Filo van Aleksandrië, ’n vergrieksde Jood, het Numeri soortgelyk geïnterpreteer. Hy het die Septuaginta*-lesing as basis geneem wat “man” as ekwivalent vir “septer” lees. Hierdie man word deur hom as ’n kryger beskou wat “sy leër in die oorlog lei, wat groot en talryke nasies sal oorwin”.

Die Testament van Juda, ’n Christelike teks wat antieke Joodse tradisies bevat, het die volgende lesing: “En hierna sal ’n ster voortkom vir julle uit Jakob, in vrede, en ’n man sal uit my nageslag opkom soos die son van geregtigheid … Dan sal die septer van my koninkryk voortskyn en uit julle wortels sal ’n stam verrys. En daaruit sal ’n staf van geregtigheid ontspring vir die heidene, om te oordeel en te red dié wat die Here aanroep.”

Hierdie is voorbeelde van passiewe, gees­te­like verwagtings. Die mees aangrypende voorbeeld van ’n radikale Messiaanse interpretasie van Num 24 word egter in die Bar Kogba-opstande gevind. Dit was vir Israel* deur sy geskiedenis en later gedurende die Judaïsme* bitter moeilik om onderdrukking deur hulle vyande te verwerk. Die Romein­se onderdrukking (Kyk by: Romeinse Ryk) het telkens tot bloedige opstande gelei. Ty­dens die Joodse oorloë van 68–70 nC het die laer klasse in die Joodse gemeenskap teen die Romeine gerebelleer. Titus is ge­stuur om die opstande te onderdruk en die Joodse geskiedskrywer, Josefus*, wat toe ’n Joodse generaal was, het verklaar dat Titus die Messias was en voorspel dat hy keiser van Rome sou word. Die opstande is onderdruk en die Jode het vir 60 jaar rustig gebly. Hadrianus het teen 130 nC aan bewind gekom en sy optrede in Palestina* het opnuut tot opstande gelei. ’n Prominente leier uit die Joodse gemeenskap, Bar Kogba, het sy volk teen die Romeine gelei vanaf 132–135 nC. Die bekende Joodse rabbi, Aki­ba, het kosiba (Hebreeus* vir ster; teenoor die kogba in Aramees) se optrede uit Num 24 gemotiveer deur te verklaar, “(Bar Kogba) is die koning Messias”. Hierdie opstand het helaas dieselfde wrange vrugte as die vorige rebellie gehad – die Romeine het dit wreed onderdruk.

Sidebar