BARMEN-VERKLARING

BARMEN-VERKLARING bevat ses arti­kels oor die Christelike geloof wat deur die afgevaardigdes na ’n “Belydenis-sinode” van die Duitse Protestantse Kerk in die Duitse voorstad Barmen aanvaar is oor die destydse toestand in dié kerk. Dié sinode, op 29 en 30 Mei 1934, is onder andere deur Martin Niemöller* en Dietrich Bonhoeffer* georganiseer as teenvoeter vir die nasionaal-sosialisme* (Nazïsme) wat Duitsland destyds oorspoel het met ekstreme idees oor nasionalisme en an­ti­se­mitisme*. Gedurende voorafgaande jare het sg “Duitse Christene” oral beheer verkry in die kerk. Hulle rasse-ideologie het die kerk al meer gestempel. Leidende teoloë het dié denke openlik verkondig en lidmate het dit as vanselfsprekend omhels – en die Nazi-bewind begroet.

Barmen bestaan uit ’n inleiding en slot wat sáám dien as begeleidende brief, asook ses artikels (of teses). Elke artikel bevat eers ’n Skrifteks en dan ’n positiewe belydenis, waaruit ’n verwerping van die valse leer wat in omloop is, telkens volg. Al ses artikels bely saam één oortuiging. Die kerk se boodskap en lewe behoort mekaar nie te weerspreek nie (III en IV). Aangesien ons aan Christus* behoort, het dit gevolglik implikasies vir ons héle lewe (I en II), vir kerk* en staat* én ons openbare getuienis (V en VI).

Die inhoud van hierdie verklaring is hoofsaaklik deur die Switserse teoloog Karl Barth* geskryf. Dit praat nie politiek nie en swyg oor die Jode* – ’n swye wat later kritiek ontlok het. Dit is bedoel as verklaring oor wat die kérk geroep is om te wees – maar met implikasies wat eers algaande duideliker word: destyds in Duitsland, maar ook vele kere daarna – in Frankryk, Nederland en elders in Europa, in die Verenigde State, in Asië, in Suid-Afrika en Afrika.

Barmen is soms amptelik aanvaar as belydenisskrif*, soms was dit bloot simbool en inspirasie dat dit moontlik is om teen magte en ideologieë* te getuig, soms was die inhoud skielik weer relevant in nuwe kontekste as soortgelyke versoekings gelowiges sou bedreig.

 

Sidebar