BARNABAS

BARNABAS was ’n Leviet* van Siprus*. Sy eintlike naam was Josef*5 met as bynaam Barnabas (“seun van bemoediging”), waarskynlik omdat hy ’n toonbeeld van Christelike mededeelsaamheid was (Hand 4:36-37).

Ná Saulus (Paulus*) se bekering, het Bar­na­bas hom aan die ouderlinge* in Jerusa­lem voorgestel. Weens die groot getal nuwe gelowiges in Antiogië, het Jerusalem Barnabas op ’n feitesending daarheen ge­stuur. Hy het toe vir Saulus in Tarsus* gaan haal, en saam het hulle vir twee jaar in An­tio­gië gearbei. Die gemeente het Barnabas en Saulus na Jerusalem gestuur met nood­leniging weens die hongersnood (Hand 11:22-30).

Vervolgens stuur Antiogië vir Barnabas, Saulus en Johannes Markus*, Barnabas se neef, op ’n sendingreis na Siprus en Klein-Asië* (Hand 13–14). By hulle terugkeer in Antiogië, ontstaan daar ’n dispuut oor die noodsaaklikheid van die wet* van Moses* vir die nie-Joodse Christene. Die gemeente stuur Barnabas en Paulus om die saak met die apostels* en ouderlinge in Jerusalem uit te praat. Dit lei tot ’n besluit dat die wet van Moses voortaan nie vir nie-Joodse Christene sou geld nie (Hand 15:1-35).

Barnabas en Paulus se weë het geskei oor ’n dispuut oor Johannes Markus (Hand 15:36-41). Dit het egter nie tot ’n totale breuk gelei nie, eerder tot ’n werkverdeling.

 

Sidebar