BARNARD, ADRIAAN CORNELIS (AT­TIE)

BARNARD, ADRIAAN CORNELIS (AT­TIE) (1927–) is op Vredefort gebore. Ná sy opleiding as predikant van die NG Kerk*, behaal hy in 1954 die DTh aan die Vrije Universiteit* van Amsterdam. Hy bedien die ge­meen­tes Sonhoogte, Randfontein, Johan­nesburg, Durban-Noord en Arcadia. In Johannesburg is hy gevange­niskapelaan, stig “Self­moord Ano­niem”, en organiseer ’n omvattende evangeliesasieprogram. In Durban is hy betrokke by die vestiging van ’n eie gemeente vir Indiërs. Van 1976 tot 1990 doseer hy praktiese teologie* aan die Teologiese Fakul­teit (Afd B) van die Universiteit van Pretoria. Hy word verkies tot aktuarius van die sinodes van Natal en Noord-Transvaal en dien ook in die des­tydse Breë Moderatuur. Hy neem later ’n leidende aandeel in die ontwikkeling van die Liedboek van die kerk en was onder andere voorsitter van die Gesamentlike Kom­missie vir die Psalmberyming. Dwars­deur sy bediening en ná sy aftrede bly hy ’n produktiewe skrywer. Sy groot werk, Die Erediens, is in 1984 met die Andrew Mur­ray­prys* bekroon.

Sidebar