BARTH, KARL

BARTH, KARL (1886–1968) is in Basel, Switserland, gebore, waar hy ook oorlede is. Sy pa was ook ’n teoloog, en sy oupa aan moeders­kant, ’n predikant. Alhoewel hy soms heftig met sy pa verskil het, erken Barth dat hy sy voorveronderstellings in die teologie* van sy pa gekry het. Sy teologiese studie begin in Bern in 1904. Hierna is hy na Berlyn en dit word opgevolg deur stu­dies in Tübingen en Marburg. In 1919 publiseer hy sy epogmakende kommentaar op Paulus* se brief aan die Romeine* en in 1921 word hy (sonder ’n doktorsgraad) as professor in Göttingen aangestel. Hierna volg Münster (1925), Bonn (1930) en Basel (1935–1962). Hy verloor sy pos in Bonn vanweë sy teenkanting teen die nasionaal-sosialisme*, soos veral blyk uit sy prominente rol in die Barmen-verklaring* van 1934. Sy kritiek op Europa se na-oorlogse politiek, haal hom heelwat gramskap op die hals.

Sy hoofwerk, die Kirchliche Dogmatik, beslaan meer as 10 000 bladsye versprei oor 13 bande, maar is nooit voltooi nie. Ander bekende werke van hom is veral sy kommentare op sekere Bybelboeke en belyde­nis­skrifte, studies oor belangrike filoso­we, teoloë en Bybelse temas asook ’n aantal polemiese geskrifte en preekbundels.

Dietrich Bonhoeffer* het die teologie van Barth met die musiek van Mozart ver­ge­lyk. Op dialektiese wyse word hilaritas en gravitas bymekaar gebring en ook deurgaans gehandhaaf. Vanweë die oneindig-kwalitatiewe verskil tussen God en mens, sê Barth, kan die mens nie anders as om tegelyk die afstand én die genadevolle oorbrugging daarvan in Christus*, in die geloof te erken nie. Christus is die konkrete sentrum van die werklikheid. Hý is die volle openbaring van God en is daarom sowel die kenprinsiep as die sin van alles. Die Skrif* is ook nie die openbaring nie, maar die getui­e­nis van die Woord* van God. Daarom gebeur die kerk alleen waar die vleesgeworde Woord verkondig word en vorm dit so bedding vir alle teologie. Etiek* is toegepaste dogmatiek* en moet noodwendig sosiaal uitmond.

Dit wil voorkom of daar in die denke van Barth ’n ontwikkeling is vanaf die diskon­tinuïteit na die kontinuïteit tussen God en mens met 1930 as die waarskynlike breuklyn. Tog is dit verkeerd om te beweer dat dit ’n verskuiwing van ’n dialektiese na ’n analogiese denke toe is. Die spanning van die ja én die nee bly deurgaans ge­hand­haaf en so ook die triomf van God se genade. Sy denke is enduit besonder konsistent, sonder innerlike teëspraak.

Barth is sonder twyfel die mees prominente teoloog van die 20ste eeu. Pous Pius XII het hom as die grootste teoloog sedert Thomas van Aquino* bestempel. Sy Woord­teo­logie het postmoderne denkers soos Derrida en Levinas geïnspireer.

Vir verdere lees: K Barth 2003. God, Here and Now. Londen/New York: Routledge Classics. J Webster 2000. Karl Barth. Londen/New York: Wellington House. K Ward 1999. Barth, Derrida and the Language of Theo­logy. Cambridge: Cambridge Universi­ty Press.

Sidebar