BARTOLOMEUS-NAG

BARTOLOMEUS-NAG of die Bartolo­meus-nag-moorde het gedurende die vroeë ure van Sondag, 24 Augustus 1572, in Parys begin toe duisende lidmate van die Franse gereformeerde* kerke deur Katoliek*-gesindes oorval en doodgemaak is.

Die groei van die gereformeerde Prote­stan­tis­me* in Frankryk en die daarmee ge­paard­gaande godsdiensoorloë vorm die ag­ter­grond waarteen dié berugte moorde ge­sien moet word.

Teen ongeveer twee-uur daardie nag is die klok van die St Germain l’Auxerrois-kerk oorkant die Louvre as teken vir die aanval gelui. Gaspard de Coligny, heer van Chatillon en Admiraal van Frankryk – die hoogste militêre rang in Frankryk – en ’n leier van die Hugenote* (die Franse gereformeerdes), was een van die heel eerste slagoffers. Ná die moord op Coligny is die ander Hugenote ook aangeval. Die hele Sondag het die slagting voortgeduur. Die historikus Jean Crespin reken dat daar meer as 10 000 Protestante in Parys om die lewe gebring is. In die volgende dae het die goewerneurs en die provinsies bevel gekry om die Protestante in hulle gebiede uit te roei. Na skatting is tussen 25 000 en 30 000 Hugenote om die lewe gebring; sommige stel die getal op 60 000, terwyl nog ander die syfer van 100 000 noem. (Kyk ook by: Edik van Nantes, en: Inkwisisie.)

Vir verdere lees: P Coertzen 1988. Die Hugenote van Suid-Afrika 1688–1988: Ge­denk­boek by die 300-jarige koms van die Hugenote na Suid-Afrika. Kaapstad: Tafel­berg.

Sidebar