BARTOLOMEUS

BARTOLOMEUS. Hy was die seun van Tolmai. Sy naam kom voor in die sg apostellyste as een van die twaalf. Opvallend is dat dit gekoppel word met dié van Filippus*. Op grond hiervan word daar gemeen dat hy dalk dieselfde persoon is wat bekend staan as Natanael*, uit Kana, en wat deur Filippus op ’n merkwaardige wyse aan Jesus* bekend gestel is (Joh 1:46-52). Natanael word egter nie in die apostellyste genoem nie. Nadat Filippus geroep is om Jesus te volg, gaan vertel hy dit vir Natanael. As laasgenoemde dit betwyfel of daar iets goeds uit Nasaret* kon kom, neem Filippus hom na Jesus toe. Natanael is beïndruk oor Jesus se vooraf kennis van hom, en ook ander dinge, en bely Jesus as die Seun* van God* en Koning* van Israel*, Hierdie ontmoeting word dan soms verstaan as Natanael se roeping tot apostel*. Sy noue verbintenis met die apostels word verder bevestig deurdat sy naam ook op die lys verskyn van diegene wat besluit het om ná Jesus se opstanding* by die see van Tiberias* te gaan visvang en Jesus daar weer aan hulle verskyn het (Joh 21:2). Natanael beteken “gawe van God”.

Sidebar