BASTILLE-DAG

BASTILLE-DAG. Daar word algemeen aanvaar dat die Franse Rewolusie op 14 Julie 1789 begin het toe die gepeupel van Parys die Bastille, ’n Middeleeuse vesting wat as tronk vir politieke gevangenes ge­dien het, bestorm en ingeneem het. Dit het ge­volg op koning Lodewyk XVI van Frankryk se byeenroeping van die State-Generaal of Franse parlement in Mei 1789 om bestaande griewe aan te hoor. Die verteenwoordigers van die burgerlike of derde stand het egter weggebreek en ’n nasionale vergadering gevorm, en het ’n eed afgelê om eers uiteen te gaan nadat ’n grondwet vir Frankryk opgestel is. Die bevolking van Parys het dié gedagte gesteun en op 14 Julie die Bastille bestorm. Sewe gevangenes is bevry waarna dié gehate tronk afgebrand en ’n verklaring van menseregte* op 26 Augustus aanvaar is. Op 14 Julie 1790 is die eerste herdenking van die bestorming van die Bastille feestelik gevier waarna die eerste Franse grondwet in 1791 aanvaar is. Frankryk het hierna ’n konstitusionele monargie geword, maar dit was van korte duur. Gebeure het mekaar vinnig opgevolg – op 10 Augustus 1792 is Lodewyk XVI gearresteer, op 22 Augustus is die Franse Republiek uitgeroep en op 21 Januarie 1793 is Lodewyk onthoof.

Die honderdjarige herdenking van die bestorming van die Bastille in 1889 het gelei tot ’n jaarlikse instelling waartydens ’n groot militêre parade in Parys gehou en ’n tuinparty deur die Franse president aangebied word. Hoewel die Franse Rewolusie die voorspel tot ’n bloedige skrikbewind en ’n oorlog tussen Frankryk en groot dele van Europa was, asook die weg vir Napoleon* Bonaparte as despoot gebaan het, is die Franse nasie bevry van ’n willekeurige ko­ning wat nie die onderdane se belange op die hart gedra het nie. Menseregte as begrip wat op die beginsels van vryheid, gelykheid en broederskap berus, is toe ook vir die eerste keer op Europese bodem gevestig. Dié “bevryding van die gees” het die godsdiens ingrypend beïnvloed. Suid-Afrika se Grondwet van 1996 het hierop voortgebou en berus op die sleutelbegrippe van vryheid, gelykheid en menswaar­digheid.

Sidebar