BAUDRILLARD, JEAN

BAUDRILLARD, JEAN (1929–2007) is in Frankryk gebore, maar sy denkskadu­wee val ver en wyd. Hy word beskryf as ’n “somber den­ker en sosioloog” wat veral die probleme van die eie­tydse verbruikersamelewing op die oog gehad het. In sy eerste fase (1968–1976) ver­ken hy die Marxisme* krities as interpretasiemodel van die verbruikersamelewing. Vol­gens hom kan goedere nie bloot deur hulle ge­bruiks­waarde geïnterpreteer word nie, maar ook deur hulle betekenis­waarde. ’n Teorie van gebruikswaarde en betekeniswaarde moet volgens Baudrillard ook deur ’n teorie van simboliese uitruiling aangevul word. In die tweede fase van sy loopbaan (van 1976 tot met sy dood) staan hierdie teorie van simboliese uitruiling of simulacra op die voorgrond. Hy skets in bykans 50 publikasies die beeld van ’n tegno-mediale samelewing waarin indiwidue en groepe in ’n delirium van beelde, spektakels, simulasies en kommunikasienetwerke vasgevang is wat al hoe minder met die eksterne werklikheid verband hou. Sy werk sedert die laat-1970’s – wat onder meer handel oor Amerika, wetenskapfiksie, oorlog, terrorisme, 9/11 (Kyk by: Nine-Eleven) en vigs* – het al hoe meer kultureel-pessimis­ties geword, ’n soort langdurige afskeid van die reëele wêreld. Ná die val van die Berlynse Muur het die Westerse samelewing op die afgrondspad van die dood en die bose in sy visier gekom. Vir sy kritici het hy ’n reaksionêre profeet, selfs ’n intellektuele nar, geword. “Baudrillard het, soos min ander denkers, met ’n onverskrokke kreatiewe oog die vratte en gebreke in ons tyd soos ’n spieël voor ons gehou. Aan die ander kant het sy oordrewe pessimisme hom daartoe gedryf om op ’n melancholiese en somber wyse van die wêreld afskeid te neem” (Pieter Duvenage).

 

Sidebar