BAUR, FERDINAND CHRISTIAN

BAUR, FERDINAND CHRISTIAN (1792–1860), ’n pastorieseun, studeer vanaf 1809 teologie* in Tübingen en dien van 1814–1826 as pastor. Van 1826–1860 doseer hy kerkgeskiedenis* en dogmatiek* in Tübingen waar die sg “Tübingen-skool” om hom ontstaan. Sy sterkpunt is sy vermoë om groter verbande raak te sien en hy sien die Nuwe Testament* as deel van die breër kerkgeskiedenis. Hy publiseer ongeveer 10 000 blad­sye en nog 6 000 bladsye word ná sy dood op grond van sy aantekeninge gepubliseer.

Vir hom moet studie van die Nuwe Testament by Paulus* se briewe begin, daar waar die spanning tussen die partikulier-Joodse (Petriniese) en universeel-heidense (Pauliniese) Christendom* sigbaar word (1 Kor 1:11-12). Net Galasiërs*, 1 en 2 Korin­tiers* en Romeine* is vir Baur egte briewe van Paulus. Die tese, antitese en sintese van Hegel* se filosofie speel ’n rol by hom, hoewel dit nie oorbeklemtoon moet word nie. Ná die breuk tussen Paulus en Petrus*, verteenwoordig Hebreërs* en Handelinge* versoenende tendense, daarom is Hande­linge* slegs van sekondêre belang vir Pau­lus se lewe. 1 en 2 Timoteus*, Titus*, die Jo­han­nes-Evangelie* en Johannes se briewe* is ’n volgende universalistiese fase in die geskiedenis. Baur stel dit dat die Sinoptiese Evangelies* groter historiese waarde as die Johannes-Evangelie het.

Jesus* se onderrig is vir Baur religie* en nie teologie nie, maar vorm die basis vir die res van Nuwe-Testamentiese teologie.

Vir verdere lees: DK McKim (red) 1998. Historical Handbook of Major Biblical Interpreters. Leicester: IVPress.

 

Sidebar