BAVINCK, JOHAN HERMAN

BAVINCK, JOHAN HERMAN (1895–1964) is in Rotterdam gebore, die seun van ’n predikant van die Gereformeerde Kerken in Nederland. Strakke ortodoksie* is in die Bavincks se geval getemper met ’n evangeliese ingesteldheid (Kyk by: Spiritualiteitsmodelle: Evangeliese spiritualiteit). In 1919 word die jong Bavinck beroep na Medan in Sumatra, Indonesië, en in 1929 word hy sendeling* in Solo, Sumatra. Hy het baie moeite gedoen om met gesprekke meer van die godsdiens van die Javane te leer. In 1939 keer hy terug na Nederland as dosent by die Gerefor­meerde Kerken se Teologiese Skool in Kam­pen. As gereformeerde* sendingteoloog het Bavinck baanbrekerswerk op die terrein van die sendingwetenskap* verrig. Sy inleiding tot die sendingwetenskap was vir baie jare ’n standaardwerk. Hy het die verhou­ding tussen die Christelike evangelie* en ander godsdienste uit die hoek van die elenktiek behandel. Daarin blyk dit duidelik dat hy van oortuiging was dat die evangelie* van Jesus* Christus* uniek is omdat Jesus self die kern van die openbaring van God is. Ten opsigte van dié saak wou hy geen kompromie toelaat nie. Bavinck was ’n welkome besoeker in Suid-Afrika en hy het deur sy voorbeeld en geskrifte ’n groot invloed op die sendingaksie van die NG Kerk* uitgeoefen.

Vir verdere lees: GE Anderson en andere (red) 1994. Mission Legacies: Biographical Studies of Leaders of the Modern Missio­nary Movement. New York: Orbis.

 

Sidebar