BAX, DOUGLAS

BAX, DOUGLAS (1934–) se betrokkenheid by die Presbiteriaanse Kerk* en die Engelssprekende kerke in Suid-Afrika strek oor ’n lang periode. Hy was moderator* van die sinode* van die Presbiteriaanse Kerk in Suidelike Afrika, en het namens sy kerk sterk kritiese standpunte teen apartheid* ingeneem. Die eerste belangrike debatte oor gewetensbesware teen militêre diens is in 1974 deur Bax geïnisieer by die jaarlikse nasionale konferensie van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke* by Hammanskraal, noord van Pretoria. Hy het ’n aantal uitsprake en resolusies vir hierdie vergadering voorberei. Bax het hom reeds lank vantevore op hierdie onderwerp ingewerk en het ook ’n bydrae gelewer tot die studieverslag van die Study Project on Christianity and Society (Spro­cas): Apartheid and the Church. In wese het die standpunt daarop neergekom dat militêre aksie en geweld nie gebruik mag word om die status quo van die destydse Suid-Afrika in stand te hou nie. Hierdie voorstelle van Bax is deur Beyers Naudé* gesekondeer. Dit het baie publisiteit ontvang en die toorn van die owerheid uitgelok. In werklikheid het die verklarings wat Hammanskraal in 1974 uitgereik het, nie die kerke gevra om ’n pasifistiese hou­ding in te neem nie, maar eerder om die saak van gewetensbesware oor militêre diens te heroorweeg.

Sidebar