BECKET, THOMAS

BECKET, THOMAS (1117/8–1170) is in Londen gebore en bestudeer kerkreg* in Frankryk en Engeland. Hy word nooit ’n groot akademikus nie, maar maak gou opgang in kerklike en politieke kringe. Hy is nog in sy dertigs toe Teo­bal­dus, die aartsbiskop van Kantelberg (Canterbury), hom in 1154 tot aartsdiaken (Kyk by: Diaken2) van Kantel­berg  orden. Die volgende jaar maak koning Henry* II hom sy kanselier. Toe Teobaldus in 1162 sterf, beveel Henry II aan dat Becket die aartsbiskop van Kantelberg word.

In 1164 vaardig Henry II die Konstitusies van Claredon uit in terme waarvan die koning – en nie die pous* nie – die laaste sê oor die Engelse kerk het. Toe Becket dit teenstaan, begin die ko­ning hom vervolg. Hy word gedwing om na Frankryk te vlug en die beskerming van die pous te vra.

Op 30 November 1170 keer Becket na Engeland terug nadat hy en die koning oënskynlik tot ’n vergelyk gekom het. Becket dring egter daarop aan dat die biskoppe*, wat die koning ondersteun het, die gepaste straf van die pous moet ondergaan. Die woede van die koning hieroor beweeg vier ridders om Thomas op 29 Desember 1170 in die katedraal van Kantelberg te vermoor. Net meer as twee jaar later, kanoniseer pous Aleksander III vir Becket. En die volgende jaar, op 12 Julie 1174, doen koning Henry II in die openbaar boete by sy graf.

Sidebar