BEDIENAAR VAN DIE WOORD

(Latyn: Verbi Divini Minister – VDM). Dit is ’n waagstuk om predikant* te word, want daar is soveel eise wat gestel word. Om net ’n paar te noem: kommunikasie- en luistervaardighede, emosionele intelligensie, duld­saamheid, integriteit, vriendelikheid.

En dan is ’n predikant ook by uitstek ’n bedienaar van God se Woord (Kyk by: Woord van God). Dié bediening vind op verskillende vlakke plaas. Hier val die lig op die bediening van God se Woord tydens die erediens*.

’n Bedienaar van die Woord moet goed na die teks luister. Hy/sy moet in staat wees om die wêreld van die teks en die wêreld rondom die teks te verstaan. Om die wêreld van die teks te probeer verstaan, vra ’n noukeurige lees van die grondtekste. Die komposisie en die same­hange van tekste moet nagegaan word. Die oogmerk, draaipunt en oorredingskrag van ’n teks moet gesnap word. Die bedienaar van die Woord moet ook die wê­reld van die teks probeer verstaan. Die omgewing van die Antieke Ooste en die Griek­se wêreld het hulle be­te­kenis- en kommuni­ka­siesimbole. ’n Pre­di­ker moet bv die funksie van maaltye in die Nuwe Testament* verstaan om die funksie daarvan vir vandag uit te lê.

Die bedienaar van die Woord moet ook iets van sy/haar tydgees begryp. Wat is vir mense vandag belangrik? Waarmee identifiseer hulle hulle? Wat inspireer mense? Na watter musiek luister hulle? Waaroor is hullle bekommerd?

Die bedienaar van die Woord word binne verskillende tradisies op verskillende maniere aan ’n simboliese en rituele ordening gekoppel. Hierdie ordening word dikwels aan offisiële titels soos biskop*, priester*2, dominee* verbind.

Sidebar