BEDIENING

BEDIENING verwys in die enger en meer tradisionele sin van die woord na die werk van die predikant*, priester*2 of pastor. Wat hierdie werk presies behels, word in elke geval deur die bepaalde kerklike tradisie voorgeskryf. In Protestants*-gereformeerde* kringe is so ’n persoon primêr ’n bedienaar van die Woord (Kyk by: Woord van God) en word sy/haar funksie gewoonlik beskryf in terme van die verskillende gestaltes van Woordbediening.

Die afgelope kwarteeu het die begrip “bediening” in Afrikaanse kerke met ’n ge­re­formeerde belydenisgrondslag ’n verrui­ming ondergaan. Dit het gebeur onder in­vloed van die gemeenteboubeweging wat veral Amerikaanse kerkgroeibeginsels en reformatoriese insigte geïntegreer het. ’n Belangrike uitvloeisel hiervan was dat die lidmaat se verantwoordelikheid vir die ge­meente, herontdek is. Verskillende bedie­nings, bv ’n musiekbediening en ’n seniorlidmaatbediening, het ontwikkel en in hierdie gevalle verwys “bediening” na die dienswerk wat in die gemeente deur (onder andere) die lidmate gedoen word.

Die gemeenteboubeweging het ook groot­liks bygedra tot ’n bewusmaking van verskillende bedieningsmodelle (bv herder-kudde-model en liggaams­model) en het entoesiasme vir bedienings­vernuwing gestimuleer. Hierin gaan dit nie bloot oor enkele kosmetiese verskille en veranderings nie, maar word gevra vir ’n grondige hersiening van die gangbare kerkbegrip. Sodoende ondergaan die begrip “bediening” verdere uitbreiding en verteenwoordig dit ’n bepaalde verstaan van en benadering tot kerkwees.

Vir verdere lees: C Burger 1991. Die dinamika van ’n Christelike geloofsgemeenskap: Nuut gedink oor gemeentes. Kaapstad: Lux Verbi. HJ Hendriks 1992. Strategiese beplanning in die gemeente: Die beginsels en praktyk van gemeentevernuwing. Wellington: Hugenote-Uitgewers; M Nel 1994. Gemeentebou. Halfweghuis: Orion.

Sidebar