BEELD VAN GOD (1)

BEELD VAN GOD (1). Die mens* is na “die beeld van God” geskep. So sê God self in Gen 1:26. Daarmee word die uniekheid van die mens aangedui as die kroon van die skepping, God se verteenwoordiger, in onderskeiding van alle ander skepsels. Die beeldskap dui ook op die unieke verhou­ding waarin die mens tot God gestel is. God het immers die asem van die lewe in die mens se neus geblaas (Gen 2:7). “Beeld van God” beteken verder dat die eerste mens goed, regverdig en heilig geskep is sodat hy – én sy – in al hulle doen en late met die wil van God kon ooreenstem.

Deur die sondeval* het die mens homself aan die sonde en vervloeking onderwerp. Hy het homself deur die sonde van God losgeskeur, en die liggaamlike en geestelike dood verdien. Hy het sy gawes verloor en net klein oorblyfsels daarvan oorgehou, wat egter genoeg is om hom van alle verontskuldiging te ontneem. Die mens word ná die sondeval steeds beeld van God genoem (Gen 9:6), maar die beeld is só geskend dat die mens nie uit sy eie tot sy oorspronklike staat kan terugkeer nie. Daarvoor moes Christus* kom as die enigste en volkome Middelaar*. Hy is die beeld van God (2 Kor 4:4) in die volmaakte sin van die woord. Ná Hom word die gelowiges vernuwe deur die krag van die Heilige Gees* in kennis, geregtigheid* en heiligheid* (Ef 4:24; Kol 3:10) en die beeld van God word algaande in hulle herstel. Dit sal in ’n volkome sin – soos met die skepping – op die nuwe aarde bereik word.

Sidebar