BEGINSELS

BEGINSELS. Geen wetenskaplike denke begin met niks nie. Alle wetenskaplikes het ’n bepaalde (weldeurdagte of ondeurdagte) uitgangspunt of lewens- en wêreldbe­skouing van waaruit hulle redeneer en wat gevolglik hulle kenteorie, metodologie en doelstellings (mede-)bepaal. Daar bestaan geen beginsellose mens nie, ook ’n nié-beginsel is ’n beginsel. Beginsels kan nie wetenskaplik bewys word nie, maar word “in (on-)geloof” aanvaar.

In Spr 1:7 en 9:10 word (positief) verwys na die vrees van die Here as die “beginsel” (reesjit) van kennis/wysheid (so Ps 111:10), terwyl Gal 4:3, 9 (1933/1953-vertaling) (negatief) praat van die eerste “beginsels*” (stoicheia) van die wêreld (vgl Kol 2:8, 20). Christene neem hulle beginsel in God en in sy openbaring in die skepping, die Skrif* en sentraal in Jesus* Christus*. Die debat in die Christelike etiek* (Kyk by: Etiek, Christelike) gaan oor die vraag of net die liefde* of ook “morele beginsels” as vertrekpunt moet dien.

 

Sidebar