BEGRAFNIS

BEGRAFNIS. Die Engelse woord “fune­ral” is van die Latynse woord funus afgelei. Dit dui op daardie ritueel wat erkenning gee aan die afsterwe van ’n persoon en wat verband hou met ’n godsdienstige hande­ling van teraardebestelling, tewaterlating of verassing* waar finaal afskeid geneem word.

Begrafnisrituele – vanaf die waak by die afgestorwene, die begrafnisdiens tot by die oprig van ’n gedenkteken – het deur die eeue verskillende vorms aangeneem. Die gereformeerde* tradisie het ’n sterker klem op die pastorale sorg (Kyk by: Pastorile beraad) ter voorbereiding van gelowiges vir hulle dood* as op die begrafnisrituele self geplaas. Min aandag is bestee aan die treurproses van die agtergeblewenes.

Vandag word die begrafnis algemeen be­skou as ’n oorgangsritueel waar die same­lewing openbare erkenning verleen aan die afsterwe van ’n persoon. ’n Christelike be­graf­nis beklemtoon die getrouheid van God in lewe* en dood en die oorwinning van Christus* oor die dood vanweë die opstanding*. In ons moderne samelewing is die begrafnis een van die min plekke waar intense emosies in die openbaar getoon en aanvaar word. Vir naasbestaandes en vriende vervul die begrafnisritueel met die gepaardgaande ondersteuning van ’n ge­meenskap van gelowiges ’n belangrike pastorale rol.

 

Sidebar