BEKERING

BEKERING, saam met geloof*, word ge­woonlik gesien as die mens se antwoord op God se roeping* en die wedergeboorte*. Bekering mag egter nie bloot as mensewerk beskou word nie: dit is God wat ons tot bekering bring (Klaagl 5:21; Hand 5:31). Maar God doen dit op so ’n manier dat ons verantwoordelikheid daarby ingeskakel word (vgl Fil 2:12 en volgende verse). Daarom beveel God ons dat ons ons moet bekeer (bv Mark 1:15).

Bekering beteken oorspronklik dat ons ons moet afkeer (wegdraai) van die sonde* en terugkeer na God toe. Dit hou nie net ’n uiterlike verandering van rigting in nie, maar ook ’n innerlike verandering van gesindheid. Anders gesê: ware bekering bestaan uit die “afsterwing van die ou mens*” (berou oor en haat van die sonde), en die “opstanding van die nuwe mens*” (’n lus en liefde om volgens God se wil te lewe) (Heidelbergse Kategismus*, Sondag 33).

’n Mens kan in die Bybel* onderskei tussen ’n “sendingbekering” van ongelo­wi­ges wat die eerste keer tot geloof kom, en ’n “verbondsbekering” van gelowiges wat afgedwaal het. Almal hoef nie op dieselfde manier tot bekering te kom nie. Soms is dit dramaties, soos Paulus* (Hand 9), en soms geleidelik, soos Timoteus* (2 Tim 1:5). Daar is iets soos ’n eenmalige wortelbekering en ook ’n herhalende, lewenslange bekering.

 

Sidebar