BELLARMINUS, ROBERT FRANCIS ROMULUS

BELLARMINUS, ROBERT FRANCIS ROMULUS (1542–1621) is vier jaar vóór die afsterwe van Martin Luther* gebore. Hy sou bekend word as ’n apologeet vir die Katolieke Kerk* teen die Protestantse* Hervormers.

In 1560 tree Bellarminus, ’n Italianer van geboorte, toe tot die Orde (Kyk by: Ordes) van die Jesuïete*, en hy word die eerste Jesuïtiese professor aan die Universiteit van Leuven in België. Hierdie universiteit het in die voorste linie vir die Katolieke Kerk teen die Hervormers geveg. Hier begin Bellarminus met sy be­kendste werk, die Disputasies oor die Kon­tro­verse van die Christelike Geloof, waarin hy Katolieke en Protestantse geloofstandpunte teen mekaar opweeg. Die standpunte van die Konsilie van Trente*, waar die Katolieke Kerk hulle eie hervorming (Kyk by: Kontra-reformasie) teen die Prote­stant­se hervorming begin het, vier hoogty in hierdie werk.

Bellarminus word in 1589 as pous Paulus V se persoonlike teoloog aangestel. Tog is hy ook binne Katolieke geledere kontroversieel. Eerstens het hy in sy werke aangevoer dat die pous* slegs temporele mag het in aardse sake, en tweedens het hy in simpatie met Galileo* gebly wat aangevoer het dat die aarde om die son draai – in weerwil van die pouslike verwerping van hierdie standpunt.

Bellarminus is eers in 1931, meer as vier honderd jaar ná sy dood, deur pous Pius XI tot doktor van die Katolieke Kerk verklaar.

 

 

Sidebar