BELOFTE

BELOFTE. In die Bybel* vind beloftes onderling tussen mense plaas, maar veral tussen God en mense. God se beloftes (2 Pet 1:4) neem dikwels die vorm van ’n verbond* aan. Daar is die oerbelofte (Kyk by: Moederbelofte, Gen 3:15), die belofte aan Noag* (Gen 8:21–9:17), aan Abraham* (Gen 12:2-7; Deut 1:8, 11; 6:3), aan Dawid* (2 Sam 7:10-16), die herstel van Israel* (Jes 4:2; 55:5; 66:13), die koms van ’n Messias* (Jes 7:14; Mal 3:1), ’n nuwe verbond (Jer 31:31-34) en die uitstorting van God se Gees* (Joël 2:28-32).

Vir die Nuwe-Testamentiese* skrywers kulmineer die vervulling van God se beloftes in Jesus* Christus* se koms (Hand 26:6; 2 Kor 1:19-20; Ef 3:6; Heb 6:13-18). Matteus* gebruik elf vervullingsitate om aan te dui hoedat talle beloftes van God vervul is met die koms van Christus. Die belofte van ’n Verlosser uit Dawid se geslag is dus in Christus self vervul (Hand 13:23, 32-33; Rom 1:2-3; 4:13; 9:4-5). Die belofte van die Heilige Gees* noem Jesus “die belofte van my Vader” (Luk 24:49; Hand 1:4). Christene ontvang die belofte van die ewige lewe (1 Joh 2:25). Heb 11:13 meld dat talle geloofshelde gesterf het sonder om gedurende hulle leeftyd te kry wat beloof was, maar nogtans in hulle geloof volhard het.

Sidebar