BELYDENDE KRING

BELYDENDE KRING. “Die Broeder­kring”, soos die Belydende Kring aanvanklik geheet het, was ’n nie-rassige beweging wat in 1977 deur predikante uit die drie swart NG Kerke – die NG Sendingkerk*, die NG Kerk in Afrika* en die Reformed Church in Africa* – in die lewe geroep is. Daar was minstens vier hoofredes vir die stigting van hierdie beweging: 1. Die behoefte aan ’n nuwe teologiese diskoers. 2. Die begeerte na die hereniging van die NG Kerkfamilie*. 3. Die soeke na ’n antwoord op die vraag na die rol van die kerk* in Suid-Afrika. 4. Die behoefte om mekaar beter te leer ken. Die Broederkring se naam is later na “Die Belydende Kring” verander om ruimte te maak vir vroue en ook vir lidmate wat nie geordendes (Kyk by: Orden) was nie. Die nuwe naam het ook die groeiende diskussies oor die begrip “belydende kerk” weerspieël. Van die begin af is die vraag na die verskil tussen ’n kerk met ’n formele belydenis en ’n belydende kerk gestel, en in hierdie kring is tóé al oor begrippe gepraat wat later sterk in die Belydenis van Belhar* sou figureer: God en die armes, versoening, eenheid. Met hulle byeenkomste, konferensies en die kwartaalblad Dunamis, waarvan Allan Boesak* die eerste redakteur was, het die beweging groot invloed op die denke van die jonger geslag teoloë en lidmate uitgeoefen. Die Belydende Kring het onafhanklike verhoudings met susterkerke oorsee opgebou, studiereise en beurse vir predikante gereël, en ekumeniese* verhoudings sterk beïnvloed, iets wat soms kwaai spanning tussen die groep en die onderskeie kerkleidings veroorsaak het. Met die totstandkoming van die Verenigende Gereformeerde Kerk* het die beweging opgehou om te bestaan.

 

Sidebar