BELYDENIS VAN BELHAR

BELYDENIS VAN BELHAR het in September 1982 as konsepbelydenis beslag gekry tydens die sinode* van die NG Sendingkerk* (NGSK). By die sinode van 1986 is dié belydenis as volwaardige belydenisskrif van die NGSK aanvaar en later ook van die Verenigende Gereformeerde Kerk* in Suider-Afrika (VGKSA). Die belydenis is vernoem na die plek waar dit ontstaan het, Belhar, wat onder apartheid* in terme van die groepsgebiedewet, ’n woonbuurt vir “Kleurlinge” was. Die aanleiding tot die belydenis was onder meer die oortuiging dat die uitgangspunt van apartheid (wat as sodanig nie in die belydenis self genoem word nie) onversoenlikheid tussen mense was, en dat dit daarom regstreeks teen die boodskap van die evangelie* ingegaan het. Daaroor kan daar nie verskil van mening onder Chris­tene wees nie, is gesê, dit verg die afkondi­ging van ’n status confessionis, ’n staat van belydenis.

Op verskillende maniere betrok­ke by die aanvanklike opstel en uiteindelike goedkeuring van die belydenis, was prof Gustav Bam* (wat verklaar het dat ’n status confessionis vereis dat daar ook ’n belydenis[skrif] moet wees), prof Dirk Smit* (wat ’n groot aandeel in die skryf van die konsep gehad het), prof Jaap Durand* (wat as dosent in die aanloop tot ’n belydenisskrif saam met sy teologieklas in die 1970’s, en in die uiteindelike formulering van die konsep, ’n bepalende rol gespeel het) en dr Allan Boesak* (moderator* van die sinode van 1986). Formulerings in die 1970’s deur die Belydende Kring*, veral deur ds Chris Loff*, het ook ’n bydrae gelewer.

Terwyl die NG Kerk* in die 1980’s en 1990’s sterk afwysend teenoor die Belydenis van Belhar gereageer het, het die Algemene Sinode van 2011 tot ander insigte gekom en besluit om, as sinode, die Belydenis van Belhar as belydenisskrif te aanvaar en om die kerkordelik-voorgeskrewe weg te volg sodat dit as ’n belydenisskrif van die NG Kerk as geheel aanvaar sou kon word. Twee jaar later het die Algemene Sinode besluit om aan kerkrade* en streeksinodes voor te stel dat die formulering van Artikel 1 van die Kerkorde verander word sodat daarin ruimte gemaak word vir die Belydenis van Belhar – maar sonder dat die belydenis daarvan afgedwing sou word. Dié voorstel is aan belanghebbendes deurgestuur sodat op die kerkordelik-korrekte manier daarmee gehandel kon word. Dit is egter nie in 2015 deur kerkrade en streeksinodes op die voorgeskrewe manier aanvaar nie en die Belydenis van Belhar is dus nie as (opsionele) belydenisskrif in die NG Kerk se Kerkorde ingeskryf nie.

Enkele buitelandse kerke het die Belydenis van Belhar intussen ook as belydenisskrif aanvaar.

Die vyf artikels van Belhar is as gerefor­meerde* belydenisskrif uit Afrika* sterk kontekstueel, maar tegelykertyd ook ewe sterk op die Skrif* gebaseer, begrond op die Drie-eenheid* en ekumenies van aard. Die vier groot woorde van Belhar is eenheid*, versoening*, geregtigheid* en gehoorsaamheid*.

Artikel 1 begin met ’n sistematies-teologiese fundering van die geloof* in die Va­der*, die Seun* en die Heilige Gees*, en Artikel 5 eindig doksologies* met die Drie-eenheid.

In Artikel 2 word die eenheid van die kerk* aan die orde gestel. Dis ’n eenheid wat deur die versoeningswerk van Jesus* Christus* tot stand gekom het en as ’n gawe aan die kerk gegee is wat steeds nagejaag behoort te word. Dis nie ’n onsigbare eenheid nie, maar ’n openbare getuienis in die wêreld dat geskeidenheid, vyandskap en haat tussen mense sonde is.

Artikel 3 gaan oor die versoening. Belhar stel die uitdaging om die boodskap van versoening uit te dra, wetende dat God deur sy lewewekkende Woord en Gees die magte van sonde, dood, onversoenlikheid, haat, bitterheid en vyandskap oorwin het.

In Artikel 4 word God uitgebeeld as dié God wat kant kies vir noodlydendes, armes en verdruktes. God se bedoeling is dat teenoor hulle geregtigheid sal geskied.

Artikel 5 roep die kerk op tot gehoorsaamheid in die lig van die belydenis dat Jesus die Here* is.

Vir verdere lees: Johan Botha en Piet Naudé 2010. Goeie Nuus om te bely – die Belydenis van Belhar en die pad van aanvaarding. Wellington: Bybel-Media. Piet J Naudé 2010. Neither Calendar nor Clock – Perspectives on the Belhar Confession. Grand Rapids: Wm B Eerdmans Publishing Co. P Theron (red) 2012 Belhar geweeg. Pretoria: Kraal. Danie du Toit (red) 2014. Jaap Durand praat oor eenheid, versoening en geregtigheid. Wellington: Bybel-Media.

 

Sidebar