BELYDENIS VAN NISEA

BELYDENIS VAN NISEA. Die agtergrond van hierdie ekumeniese* belydenis is die stryd teen die dwaalleer* van Arius* oor die Persoon van Christus* en daarmee saam die verhouding tussen die Vader* en die Seun*. Arius (256–336) het ’n radikale subor­dinasionisme* (ondergeskiktheid van Chris­tus aan God die Vader) en monoteïsme* (een-godheid) geleer. Wanneer hy van “God” praat, bedoel hy altyd net God die Vader. Daarom is alles wat naas God bestaan, geskep. Dit geld ook vir die Seun. Hy is slegs die vernaamste skepsel van God, geskep uit niks vóór die begin van die tyd, maar was nie van ewig­heid af daar nie. Aleksander, biskop van Aleksandrië*, bestry Arius se dwaling, en hy leer: Jesus Christus is van ewigheid af God en is wesensgelyk met die Vader. Die Kon­silie van Nisea (325) stel die dogma van die Drie-eenheid* vas. Van die Seun word verklaar: “Hy is gebore, nie gemaak nie, één in wese met die Vader” (homoousios). Die stryd het egter steeds voort­geduur en by die Konsilie van Kon­stantinopel, 381, kry die besluit van Nisea sy beslag in die Bely­denis van Nisea. Van Christus word bely dat Hy “God uit God is, Lig uit Lig, ware God uit ware God”. En van God die Heilige Gees* word bely dat Hy van die Vader én die Seun uitgaan.

Vandag is hierdie belydenis steeds be­sonder aktueel in die lig van die verwer­ping van die uniekheid en die Godheid van Christus, bv deur teoloë van die sg Nuwe Hervorming*, die Jesus-seminaar* en ander.

Sidebar