BENEDIKTUS VAN NURSIA

BENEDIKTUS VAN NURSIA (480–547) is naby Perugia in Nursia (tans Norcia) in Italië gebore. Sy ouers het waarskynlik tot die adel behoort en hy het met sy studie in Rome* begin in die tyd van die ondergang van Rome. Die wêreldse inslag van Rome het Benediktus teleurgestel en hy het na Affile vertrek om in die berge by Subiaco asketies* te lewe. Priesters het hom gereeld besoek om onderrig te word. Benediktus is toe gevra om met ’n klooster* te begin. Hy is bekend daarvoor dat hy die kloosterlewe bekend gestel het wat op die leefwyse van die Egiptiese priesters gebaseer is. Teen 529 het hy met ’n klompie leerlinge ’n klooster in Montecassino begin. Hier formuleer hy die bekende “Reël van Benediktus” (Regula Benedicti) wat teen die 9de eeu die basiese stelreël van alle kloosters geword het. Volgens Benediktus moes monnike* drie beloftes aan die ab* aflê: oor armoede, kuisheid en gehoorsaamheid. Die monnike moes hulle toelê op gebed en handearbeid – met die Latynse spreuk: ora et labora (bid en werk). Elke dag moes in drie gelyke dele verdeel word: agt uur vir handewerk, agt uur vir gebed*, meditasie*, lees van die Skrif* en van die geskrifte van die kerk­vaders*, en agt ure vir slaap. Benediktus is die vader van die Benediktynse Orde.

 

 

Sidebar